Diverse inkomste bring goeie resultate vir BKB

SA entomopathogenic nematodes effectively kill fungus gnat pests
November 21, 2017
Western Cape set to get poultry sector going again after Bird Flu
November 28, 2017

Ten spyte van uitdagende omstandighede, het BKB positiewe finansiële resultate gelewer in die finansiële jaar wat in Junie 2017 geëindig het.

 

Die waarde van sake gedoen vir die pas afgelope boekjaar het met 14% gestyg tot ’n stewige R9,92 miljard. BKB se voorbelaste groepwins het met nagenoeg 60% tot R203,49 miljoen gestyg. ’n Dividend van 47 sent per aandeel (voor belasting) word deur BKB se direksie aanbeveel. BKB se aandele verhandel tans teen R10,60 per aandeel.

 

“Dit bewys weereens dat ons gediversifiseerde inkomstestrome die sleuteldrywers is tot die sukses wat ons behaal het,” sê Chris Louw in sy voorsittersverslag. “Al die afdelings het bygedra tot die BKB Groep se winsgewendheid, met die wol- en lewendehawe-afdelings die grootste bydraers aan BKB Agri se kant en die suikerafdeling wat besonder goed gevaar het vir PakHouse Brands.”

 

Volgens Louw het die wisselvalligheid in die mieliemark veroorsaak dat die graanafdeling die verhandeling van graan beperk het. “Met die terugkeer na ’n mate van stabiliteit in die graanmark, is ons vermeulingsafdeling weereens in staat om teen aanvaarbare marges te verhandel.”

 

Die graanafdeling het ’n wins van R5,9 miljoen voor belasting getoon. Dit is ’n merkwaardige verbetering teenoor die R12,2 miljoen verlies voor belasting van die vorige jaar, met BKB GrainCo (graanopberging) en die Gritco-meule wat die grootste bydraers was.

 

Fruits du Sud, die filiaal wat BKB onlangs bekom het, is ten volle geïntegreer in die BKB Groep en het ’n suksesvolle jaar gehad, met die hantering van rosyntjies wat aansienlik toegeneem het. Volgens die finansiële verslag het dié filiaal ’n voorbelaste wins van R19,3 miljoen tot die groep se resultate bygedra. Verdere nuus is dat die BKB Groep gedurende April 2017 die groep se 51% belang in Bet-El Fruits terugverkoop het aan die minderheidsaandeelhouer.

 

Nog ’n hoogtepunt in 2017 was die vorming van die lusern- en hooi-afdeling, AlphaAlfa, met die hoëdigtheidspers in Kimberley. Die afdeling se eerste operasionele jaar is agter die rug en volgens Louw was dit ’n moeilike jaar vir lusernverkope, beide plaaslik as gevolg van goeie reën en internasionaal met die uitvoerprys onder druk. “Kontrakte vir internasionale kliënte is in plek en die volle voordeel hiervan behoort in die 2018 finansiële jaar weerspieël te word.

 

“Handelsomstandighede bly uitdagend soos die oorblyfsels van die droogte deur die stelsel gaan, met hoë insetkoste en beperkings op die beskikbaarheid van krediet. Die grondslag van landbou bly aantreklik en ons besigheid met gediversifiseerde inkomstestrome sal verseker dat die groep voortgaan met hierdie prestasie tot voordeel van alle belanghebbendes,” sê Louw.

 

Die direksie het die groep se kontantvloei-vooruitskatting vir die jaar tot 30 Junie 2018 nagegaan en is in die lig van die huidige finansiële posisie oortuig dat die maatskappy en groep toereikende middele het, of toegang tot toereikende middele het om sy bedrywighede in die voorsienbare toekoms voort te sit. – BKB

 

Bron: AgriOrbit