Reën nou broodnodig vir sitrus

South Africa: Citrus exports to EU get extended zero tariff period
August 31, 2016
Citrus black spot in SA under control for first time in 8 years
September 7, 2016

Daar is mooi beloftes in die bloeisels van Limpopo en Mpumalanga se sitrusbome, maar boere is bekommerd oor hul krimpende waterreserwes. “As ons nie teen November reën kry nie het ons moeilikheid,” sê mnr. Piet Smit van Bosveld Sitrus in die Letsitele-omgewing van Limpopo se laeveld.

Mnr. Pieter Vorster van Laeveld Sitrus, ook in die Letsitele-omgewing, sê hulle is in presies dieselfde bootjie. “Die blom in ons boorde lyk fantasties, nie net op ons sitrusbome nie, maar ook op mangoes in die Hoedspruit-omgewing. As ons daardie vrugte kan set en deursien tot by die plukseisoen kan ons vanjaar ’n baie goeie jaar hê, maar dan moet dit binnekort reën.”

Die Tzaneen-dam waaruit Letsitele en Tzaneen se sitrusboere besproei, is tans net 28% vol en volgens die Departement van Waterwese se data daal die vlak met omtrent 0,5% per week. Smit sê Bosveld Sitrus het boorgate wat in noodgevalle gebruik kan word, maar voeg by dat reënwater nodig is vir optimale vrugvorming en ontwikkeling.

Twee boere van Tshipise in die Soutpansberg omgewing, mnr. Christo Vorster jnr. van Mount Stuart Boerdery en mnr. Barend Vorster van Xmas Boerdery is net so bekommerd. Hulle besproei uit die Nzhelele dam wat tans net 21% vol is.

Boere in die omgewing sal binnekort moet besluit of hulle die bietjie water wat nog beskikbaar is gaan gebruik om vrugte op gedeeltes van hul boorde te set en ander bome maar aan die natuur se genade oorlaat, en of hulle eerder die hele oes gaan opoffer en die beskikbare water gaan gebruik om al hul bome deur die droogte aan die lewe te hou.

Hoewel boere in Mpumalanga se Ohrigstad-omgewing in selfs ’n erger penarie is, sê mnr. Piet Engelbrecht van Piet Engelbrecht Trust in die Loskop-omgewing hulle situasie is darem nie so desperaat nie. Die Loskopdam se vlak staan volgens die Departement van Waterwese tans op 52,5%.

Bron: Landbouweekblad